Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG - 14 SEPTEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie - en vorige bulletins - kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat die Secunda en OTL ARKs moet aankondig dat die sleutel van Hannes Ferreira, ZS6JPS, stil geraak het op 3 September 2008. Ons innige simpatie aan sy LV, Joan, ZR6JF, familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SARL PRESIDENT NOOI JOU OM AAN TE SLUIT BY AMATEURRADIO WEERGAWE 2008

KONSTRUKSIEKOMPETISIE SE WENNER AANGEKONDIG

VAALDRIEHOEK-AMATEURS VIER ERFENISDAG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL PRESIDENT NOOI JOU OM AAN TE SLUIT BY AMATEURRADIO WEERGAWE 2008

In sy openingstoespraak by die Radiotegnologie-in-Aksie-Simposium gehou by die SARL Nasionale Sentrum in Gauteng, het SARL President Rassie Erasmus, ZS1YT, radiomateurs genooi om aan te sluit by Amateurradio Weergawe 2008. Hy het die vele veranderings wat amateurradio die afgelope jare ondergaan het uitgelig en genoem dat amateurradio weer op die voorgrond van tegnologie is. Hy het gesê dat die Radiotegnologie-in-Aksieprogram baie doen om radioamateurs bekend te stel aan nuwe ontwikkelings.

Hy het gesê Amateurradio Weergawe 2008 is lewendig en behoort byval te vind by die hedendaagse geslag met behoud van genoeg van tradisionele aktiwiteite vir die ouer amateur om gemeklik te voel in die stokperdjie.

Hy het ook die werwing van jongmense aangeraak. Hoekom is dit so moelik om amateurradio onder die jongmense te bervorder? Hy sê die antwoord is maklik. Ons dink aan wat vir ons geprikkel het toe ons jonk was, maar wat prikkel die jong mense vandag? ‘n Groot fout. In ons dag het die radio ‘n bekoring gehad, vandag is die Mixit, SMS en ander dinge. Dus ons moet die horlosie vinniger laat loop en uitvind wat is die belangstelling vandag.

SARL-LIDMAATSKAP GROEI NOG STEEDS

Op Vrydag het die SARL se lidmaatskap op 1 186 gestaan, naby aan die 1 200 merk, wat met jou hulp ons teen die einde van die week kan verbysteek.

‘n Groot getal nuwe lede het sedert Julie by ons aangesluit. In die volgende bulletins sal ons erkenning gee aan die nuwe lede en hulle amptelik welkom heet. Hierdie week verwelkom ons:

S J Searle; ZR1ACM, Jan P F Randewijk, ZR1EB, Gavin Danial Belstead, ZR2BG, David P. J. Vorster, ZR3A, Warren Snyders, ZR5WOZ, Alf Moffatt, ZR 6ADS, Johan J Hoffman, ZR6AJK, Kim L Smith, ZR6ML, Lang, ZR6TRI, Andries J. Duvenhage, ZS1AD, John E Haycox, ZS1AGH, Adventure Radio Club, ZS1ARC, C. Miller, ZS1FIS, Shaun N K Overmeyer, ZS1RA, Robert Cook, ZS1RJ en Dirk A Lotz, ZS1X.

Mag julle dit geniet as deel van die wenspan.

KONSTRUKSIEKOMPETISIE SE WENNER AANGEKONDIG

Christo Pelster, ZS6AHQ, is die wenner van die Suid-Afrikaanse Amateurradioontikkelingstrust se 2008 Konstruksiekompetisie. Sy inskrywing is ‘n gekombineerde Audio/RF Seinopwekker met die vermoë om ‘n stabiele sinusgolf vanaf 1 Hz tot 30 MHz met ‘n 1 Hz resolisie te lewer, en wat met ‘n direkte digitale sintetiseerder (DDS), ‘n optiese enkodeerder en ‘n groot 8-syfer LCD uitlees onder beheer van ‘n PIC16F628A tesame met minimale analoogelektronika, ‘n meerdoelige meetinstrument is. Die beoordelaars het hom aangeprys oor die ontwerp, prototipe en dokumentasie. Icom het aan Christo ‘n tweeband BHF/UHF-send/ontvanger oorhandig, terwyl die Trust vir hom ‘n hardeband 2008 ARRL-handboek oorhandig het.

Besonderhede oor die projek sal volgende week op www.amateurradio.org.za gepubliseer word asook in ‘n toekomstige uitgawe van Radio ZS.

PRESIDENTSNET VOLGENDE SONDAG OP DIE LUG

Die volgende SARL se Presidentsnet sal volgende Sondag 21 September 2008 op die lug wees, dit begin om 19:30. Sluit by Rassie Erasmus, ZS1YT, aan vir ‘n bespreking van SARL -toekennings en ‘n opdatering van SARL-sake.

VAALDRIEHOEK-AMATEURS VIER ERFENISDAG

Die twee amateurradioklubs in die Vaaldriehoek, naamlik Sasolburg, ZS4SRK, en die Vaal Driehoek, ZS6VTB, vra amateurs en vriende se ondersteuning vir hulle Erfenisdagaktiwiteite.

Die Sasolburgradioklub, ZS4SRK, gaan op die betrokke dag 'n veldstasie by die Witkopblokhuis op die R59-snelweg oprig en bedien. Kundige radio- en heliograafoperateurs word uitgenooi om aan hierdie landwye aksie deel te neem. Die beplande byeenkoms by hierdie bekende landmerk suid van Johannesburg sal heel moontlik 'n jaarlikse instelling word vir amateurs en hul gesinne. Deelnemers of besoekers is welkom om periodekostuums te dra. HF-antennes behoort vanaf die snelweg gesien te kan word.

Die Vaaldriehoek ARK, ZS6VTB, vier die ingebruikneming van hulle nuwe radiokamer en vergaderlokaal te Wedgewoodstraat in Vanderbijlpark (die ou vleisverwerkingsaanleg.) 'n Spesiale geleentheidstasie met die roepsein ZS08TV - die Vrede van Vereeniging - sal heeldag aktief wees op gelykgolf en foon. Besoekers is welkom - kyk weereens uit vir 'n verskeidenheid van antennes, sigbaar vanaf die omliggende area.

KOMPETISIENUUS

Vanmiddag word die Lente-QRP-kompetisie vanaf 14:00 tot 16:00 SAT gehou. Dit is 'n foon- en GG-kompetisie op die 40 meterband, en 'n RS- of RST-verslag en die jaar van eerste lisensie word uitgeruil. Slegs draadantennas mag gebruik word.

Volgende naweek word die tweede been van die SARL-BHF/UHF-kompetisie gehou vanaf 12:00 SAT op Saterdag 20 September tot 12:00 SAT op Sondag 21 September, op die lug wees. FM, ESB, GG en digitale modusse mag gebruik word op 6, 4 en 2 meter, 70 en 23 cm en hoër frekwensies, soos aangedui in die bandplan. Roepsein, seinrapporte en 'n seskarakter ruitblok word uitgeruil. Die reëls in die 2008 SARL-kompetisieboek is die enigste amptelike reëls. Logstate moet gestuur word aan Die Kompetsiekomitee, Posbus 12104, Brandhof, 9324 of per e-pos aan hfcontests@netactive.co.za.

KLUBNUUS

Tydens die onlangse AJV van die Highway Amateurradioklub, is die volgende lede verkies tot die komitee vir die komende jaar:

Voorsitter - Keith Lowes, ZS5WFD;
Onder-Voorsitter - Brad Phillips, ZS5Z;
Tesourier - Anne Bean, ZS5FAB;
Sekretaris - Ian Hunter, ZS5IH;
Lede - Craig Hardman, ZR5CD en Jo Boes, ZS5JO.

Besonderhede oor die komitee portfolios kan op die klub se webwerf by http://www.harc.org.za gevind word.

Tydens die AJV van die Bloemfontein Radioamateurklub gehou op 6 September, is die volgende komitee verkies:

Voorsitter: Andre van Rensburg, ZS4APA;
Onder-Voorsitter: Martin Schwella, ZS4MS;
Tesourier: Hennie Greyling, ZS4HG;
Sekretaris: Dennis Green, ZS4BS;
Lid: Victor Reitz, ZS4VR.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 11 September waarna onstuimige vlakke verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die noordelike rigtings maar swakkerig vir die hoofsaaklik noordwestelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 20 m-openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Daar is moontlike flou 40 en 80 m-openinge na Nieu-Seeland om 18:00, andersins gaan kontakte met Australië en Nieu-Seeland baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag goed wees op 40 m. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer om die draai is dit is nou die ideale tyd om kontakte vir u 80 m WAZS te maak. Een van die dae is die donderstorms en statiese steuringstoestande weer terug. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u steeds kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

14 September - Lente QRP-kompetisie;
15 - 17 September - "INSITE" 2008 in die Sandton Konferensiesentrum;
20 - 21 September - SARL BHF/UHF-kompetisie;
20 September - Overberg ARK se vergadering by HMO;
21 September - Presidentsnet;
24 September – Blokhuise op die Lug;
03 Oktober - Jongdamestoer van SA begin;
08 Oktober - Rig 'n stasie by 'n skool op as deel van ruimteweekaktiwitete.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003